Woensdag 15 April 2026: Pretoria
SOOISPIT-SEREMONIE MERK NUWE HOOFSTUK VIR AFRIKAANSE CHRISTELIKE ONDERWYS IN HARTENBOS
Die MOS Inisiatief, Doxa Deo Opvoedkunde en die Hartland Landgoedontwikkelaars het reeds op 11 November 2022 hul vennootskap aangekondig om ’n Afrikaanse privaat skool by die Hartland Landgoed in Hartenbos te ontwikkel. Hierdie visie word nou tasbaar met die amptelike sooispit-seremonie wat op 17 April 2026 plaasvind.
Die beplande skool, Hartland Akademie, is gebore uit ’n duidelike behoefte: die groeiende Afrikaanse gemeenskap in die Mosselbaai-omgewing – ’n dinamiese groeipunt op die Tuinroete – verdien toegang tot kwaliteit moedertaalonderrig binne ’n Christus-gesentreerde raamwerk.
Hierdie inisiatief gaan oor méér as net infrastruktuur. Dit gaan oor mense. Dit gaan oor kinders wat gevorm word om te floreer, om hul roeping te ontdek en om toegerus te word vir die toekoms – nie net akademies nie, maar ook geestelik. Die uiteindelike doel is om jongmense vir die Koninkryk te bereik en te vestig in waardes wat hulle lewenslank sal dra.
’N FONDASIE GEBOU OP DIE WOORD
’n Hoogtepunt van die verrigtinge sal die simboliese handeling wees waar ‘n Bybel in die fondasie van die gebou geplaas word. Hierdie daad dra diep betekenis: dit verteenwoordig die vaste oortuiging dat die skool op die Woord van God gebou word – ’n geestelike fondament waarop elke leerder se reis gevestig sal wees.
Soos vervat in Johannes 14:6 – “Ek is die Weg en die waarheid en die lewe” – word hierdie waarheid die rigtingwyser vir alles wat by Hartland Akademie gebeur. Die skool se slagspreuk, “Wys die weg!”, gee praktiese uitdrukking aan hierdie roeping.
PROGRAM VIR DIE DAG
Datum: 17 April 2026
Tyd: 09:30 – 11:00
Plek: Hartland Ontwikkeling – Skoolterrein
09:30 – 10:00 | Ontvangs en samekoms
10:00 | Amptelike opening en verwelkoming – Gerhard van Rensburg
10:05 | Woord vir die skool – Muller van Loggerenberg
10:10 | Die hart van Hartland Akademie – Roedolf van der Westhuizen
10:15 | Gebedsfasilitering en simboliese handeling – Jaco Schutte
10:30 | Afsluiting en sosiale interaksie
11:00 | Einde van program
’N SKOOL MET ’N DUIDELIKE ROEPING
Hartland Akademie is geskoei op kernbeginsels wat die hele skoolervaring vorm. Dit sluit ’n sterk fokus in op gemeenskap en die groeiende behoefte aan Afrikaanse onderrig, asook die doelbewuste ontwikkeling van kinders wat floreer en hul plek in God se Koninkryk vind. Die skool streef daarna om Christen-waardes as ’n vaste lewensrigting te vestig en om leerders toe te rus vir die toekoms deur hulle die Weg te wys.
Hierdie waardes word sigbaar in ’n kultuur wat gekenmerk word deur Ubuntu, samehorigheid en menswaardigheid. Daar word doelbewus ’n ingesteldheid gekweek om die toekoms met vertroue te omarm, terwyl lewenslange leer aangemoedig en bevorder word. Geloof, liefde en hoop vorm die hartklop van hierdie kultuur en rig die daaglikse optrede van die skoolgemeenskap.
Hierdie beginsels word prakties uitgeleef deur die leerders die Weg te wys, die Waarheid te leer en hulle deeglik voor te berei vir die Lewe.
UITNODIGEND, TOEGANKLIK EN VOLHOUBAAR
Hartland Akademie sal:
● Afrikaans as onderrigtaal gebruik
● Christus-gesentreerde onderrig bied
● toeganklik wees vir ’n breë gemeenskap
● en volhoubaar funksioneer op gesonde besigheidsbeginsels
Die skool open aanvanklik met ’n kleuterskool en grondslagfase, met verdere uitbreiding beplan soos die gemeenskap groei.
UITNEMENDHEID AS STANDAARD
Hartland Akademie sal daarna streef om ’n uitnodigende, toeganklike en volhoubare skool wat Afrikaans as onderrigtaal gebruik en Christus-gesentreerde onderrig bied te wees en om vir ’n breë gemeenskap toeganklik te wees, terwyl dit terselfdertyd volhoubaar funksioneer op gesonde besigheidsbeginsels.
INSKRYWINGS EN AANSOEKE
Ouers wat belangstel om hul kinders in te skryf, kan meer inligting verkry via Hartland Akademie se webblad en hulle belangstelling om in te skryf aandui. www.hartlandakademie.co.za
Personeelaansoeke kan gerig word aan: info@hartlandakademie.co.za.
Met hierdie sooispit-seremonie word nie net grond gebreek nie – ’n nuwe toekoms word gevestig. ’n Toekoms waar kinders geleer word, gevorm word en gelei word om die Weg te ken… en dit met oortuiging te loop.