Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Maroela Media (https://maroelamedia.co.za/afrikaans/luister-skoon-bladsy-vir-nuwe-afrikaanse-skool-in-hartenbos/)
Vir Hennie Louw is die geleentheid om ‘n splinternuwe skool te help bou meer as bloot die volgende stap in sy loopbaan. Dit raak ook aan ‘n baie persoonlike droom: om vir sy eie kinders die soort onderwyservaring te help skep wat hom tydens sy jare oorsee laat besef het wat alles in ‘n klaskamer moontlik is.
Louw is onlangs aangestel as hoof van Hartland Akademie, wat in Januarie 2027 op die Hartland-landgoed in Hartenbos open. Die nuwe Afrikaanse skool is ‘n vennootskap tussen Die MOS Inisiatief, die Doxa Deo Education Trust en Hartland Lifestyle-ontwikkelaars.
Louw bring ‘n kombinasie van onderwys-, sport- en bestuurservaring na die nuwe skool. Hy het onder meer by Hugenote Hoërskool in Wellington gewerk en beskik oor ‘n B.Ed-graad en n MBA in “Entrepreneurial Action”. Hy het ook byna vyf jaar internasionale onderwyservaring in Bahrein opgedoen. Dit was juis dié blootstelling aan ander onderwysstelsels wat sy denke begin verander het.
“Ek het nuwe stelsels en strukture gesien wat werk” vertel hy. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het die begeerte gegroei om van daardie idees plaaslik toe te pas.
Die projek het intussen nóg persoonliker geword. Louw, wat getroud is en twee jong kinders het, sê hy wil graag help bou aan ‘n skoolervaring wat sy dogter eendag kan beleef.
Hartland Akademie word gevestig teen die agtergrond van vinnige groei in Hartenbos, Mosselbaai en die Tuinroete. Volgens Louw skep semigrasie na die streek ‘n groeiende behoefte aan gehalte-onderwys, terwyl sommige ouers ook doelbewus na Afrikaanse moedertaalonderrig met ‘n sterk Christelike grondslag soek.
Die MOS Inisiatief sal veral die akademiese en moedertaalonderrigkomponent ondersteun, terwyl Doxa Deo se Christus-gesentreerde benadering deel van die skool se waarderaamwerk vorm. Die skool se leuse, “Wys die weg”, vat dié benadering saam.
Aanvanklik sal die sterkste fokus op voorskool en die grondslagfase wees. Die skool beoog om organies uit te brei totdat dit uiteindelik leerders tot graad 7 bedien. Indien daar genoeg belangstelling in n ouer graad is, kan die graad egter vroeer bygevoeg word.
Vir Louw lê een van Hartland se grootste geleenthede juis daarin dat die skool van voor af kan begin.
“Daar is nie bestaande tradisies en strukture wat voortgesit móét word nie. Akademiese praktyke, die skoolkultuur en selfs die betekenis van uitnemendheid kan doelbewus van die begin af gevestig word.”
Sport sal deel van die skoollewe wees, sê hy, maar nie ten koste van die akademiese fondament of die skool se karakter nie. Hartland kry dus iets wat min gevestigde skole het: ‘n skoon bladsy waarop daar doelbewus besluit kan word watter soort skoolgemeenskap oor die volgende dekade gebou word.
Ouers wat meer wil weet, kan hul besonderhede op Hartland Akademie se webwerf indien. ‘n Opedag word ook op 17 Oktober by die skool in Hartenbos beplan. Registreer vandag nog om deurlopend op hoogte te bly van nuwe vordering en opkomende mylpale.